'Vervolg SA-soldate'
2009-08-05 13:52
Johannesburg- Twee nie-winsgewende organisasies het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) genader om op te tree teen Suid-Afrikaners wat in die Israelse weermag gedien het en betrokke was by oorlogmisdade in Gasa.
“Daar word versoek dat die owerhede ondersoek instel na die beweerde betrokkenheid van Suid-Afrikaners in Israel se ‘Operation Cast Lead’,” het Ronnie Kasrils, voormalige minister van intelligensie, tydens ‘n perskonferensie in Newtown gesê.
Die Palestinian Solidarity Alliance en die Media Review Network is gelys as die aanklaers in die beëdigde verklaring wat aan die NVG oorhandig is.
Beide organisasies pleit ook dat lt. David Benjamin dadelik in hegtenis geneem word.
Sowat 3500 bladsye se bewyse is by die klagtes gevoeg. Daar word die name van nog sowat 70 Suid-Afrikaners genoem wat in die Israelse weermag gedien het. Hulle name kan nog nie bekend gemaak word nie.
– Sapa