Vervoerhoof in sop oor onwettige kontrak
2011-06-22 12:08
Johannesburg – Benedicta Monama, hoof van die Gautengse departement van vervoer, het 'n kontrak van R3 miljard onderteken ten spyte van die provinsiale tesourie se waarskuwings dat dié kontrak onwettig is, het The Star Woensdag berig.
Die tesourie het Monama in Februarie gesê om te wag voor sy die kontrak toeken en het haar later afgeraai om WestPoint Trading Enterprises 123 aan te stel om toetssentrums in die provinsie te bestuur.
Ismail Vadi, provinsiale minister van vervoer, is eers op 31 Mei van die ooreenkoms in kennis gestel.
"Ek en die provinsiale minister van finansies het ooreengekom dat die diensooreenkoms onwettig is."
Vadi het ook aan Monama gesê sy het opgetree sonder die vereiste mandaat om die ooreenkoms te sluit.
"Die saak word deur my kantoor ondersoek."
Monama het aan The Star gesê: "Ek wil nie in die media op my baas (se kommentaar) reageer nie."
Zazi Dladla, West Point se besturende direkteur, kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA