Vervoer van transformator verg vernuf
2010-01-25 07:40
Marelize Potgieter
Kaapstad - Elektriese krag vir die Moederstad tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi blyk hoog op die agenda van die Kaapse stadsraad te wees.
’n Reuse-transformator van 281 ton wat in Korea vervaardig is en op 7 Januarie in die Kaapse hawe aangekom het, is gisteroggend om 06:00 per pad na die Acacia-subkragstasie in Edgemead gebring.
Volgens Delano Louw, junior rekeningbestuurder van ALE Heavylift in Suid-Afrika, wat die transformator op ’n reuse-sleepwa met drie kragperde vervoer het, sal dit deur Eskom vir kragverspreiding in die Kaapse metropool benut word.
Dr. Les Rencontre, direkteur van elektrisiteit van die Kaapse stadsraad, het gister gesê die stadsraad is die afgelope drie jaar besig om die verspreidingsnetwerk vir hoogspanningselektrisiteit te verbeter om voorsiening te maak vir die groot vraag na krag wat tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi verwag word.
Die vervoer van die transformator het groot vernuf van die vervoermaatskappy geverg en ingenieurs moes ’n spesiale roete – met hoeke en draaie waarom die massiewe sleepwa kon beweeg – uitwerk.
Die maatskappy is op die reis van drie uur deur die verkeersafdeling bygestaan.
Volgens Louw is ’n stoot-trek-metode gebruik. Die drie kragperde het die sleepwa, met 8 wiele en 16 asse, gestoot en getrek. By die bestemming is die transformator deur ’n gespesialiseerde hidrouliese hyser afgelaai.
Volgens Louw is die vervoer van die transformator ’n baie sensitiewe proses.
Die vordering is deurentyd nougeset gemonitor.
- Die Burger