Vervalste lasbrief sit Lolly agter tralies
2010-03-02 12:42
Johannesburg - Polisiebeamptes van die Johannesburgse georganiseerde misdaadeenheid het glo 'n vervalste lasbrief gebruik om Lolly Jackson agter tralies te sit.
Die lasbrief wat in die Johannesburgse landdroshof ingedien is, toon dat die dokument op 8 Februarie uitgereik is vir 'n oortreding wat op 16 Oktober 2010 gepleeg is. Dié lasbrief is ook nie gemagtig of deur 'n hooflanddros geteken nie.
Die Teazers-baas was vir twee dae in die tronk opgesluit met verdagtes wat vir gewelddadige misdade aangekla is.
Die probleme met die lasbrief is vasgestel kort voor hooflanddros A Pieterson Maandag borgtog van R5 000 aan Jackson toegestaan het.
Die 53-jarige Jackson staan tereg op aanklag van poging tot ontvoering, afpersing, intimidasie en crimen injuria.
Die aanklag van bedrog gaan moontlik teen die betrokke polisiebeamptes gelas word.
Jackson moet op 6 April weer in die hof verskyn.
– iol