Verslag lê bedrog in VS bloot
2011-10-29 08:04
Welkom – Die gewese uitvoerende burgemeester en senior munisipale amptenare van Matjhabeng, die Vrystaat se naasgrootste munisipaliteit, word in ’n verdoemende verslag beskuldig dat hulle aandadig was aan die verlies van honderde miljoene rande weens korrupsie en wanbestuur.
Die verslag van ’n kommissie van ondersoek, wat aan Media24 se ondersoekspan beskikbaar gestel is, lê sedert Desember verlede jaar en stof opgaar in die kantoor van Mamiki Qabathe, die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede. Dit skilder ’n donker prentjie van die wanordelike toestand waarin die munisipaliteit, wat Welkom insluit en verantwoordelik is vir die grootste ekonomiese aktiwiteite van die provinsie, verkeer.
Een van die name wat genoem word, is dié van ’n gewese munisipale bestuurder, dr. Benny Malakoane, tans uitvoerende amptenaar van Bloem Water.
Die verslag onthul hoe raadsamptenare uitgevang is terwyl hulle probeer het om wavragte vol sensitiewe dokumente te steel sodat dit nie in die hande van die kommissie beland nie.
Sommige van die verslag se bevindinge sluit in die onreëlmatige aanstelling van ’n bestuursmaatskappy, Latitude Programme Services, in ’n R200 miljoen-kontrak sonder enige verwysingsraamwerk en R55 miljoen wat betaal is aan Fujitsu Services vir die opstel van ’n veelvoudige oproepsentrum sonder dat die nodige aanskaffingsprosedures gevolg is.
Die werk is nooit gedoen nie. Fujitsu het gesê hulle kan nie kommentaar lewer nie.
Die kommissie het ook bevind dat ’n kontrak van R38 miljoen om infrastrukturele werk te doen op onreëlmatige wyse aangegaan is met ’n maatskappy met wie die munisipaliteit verbied is om sake te doen. Daar is ook bevind dat R27 miljoen betaal is aan kontrakteurs sonder dat die werk gedoen is.
Verbeteringe van nagenoeg R380 000 aan die huis van die voormalige uitvoerende burgemeester, Mathabo Leeto, is ook deur die munisipaliteit betaal.
Leeto sê sy is nie bewus van die kommissie se verslag of die aantygings nie.
Die kommissie is in November verlede jaar deur die voormalige LUR, Mosebenzi Zwane, aangestel ná beweringe dat wanadministrasie, bedrog en korrupsie die diensverskaffing in Matjhabeng ondermyn.
Die verslag is veral krities oor die aanstelling van Latitude, wat na verneem word, gekontrakteer is om die aktiwiteite van die munisipaliteit oor te neem.
Die kommissie het verder bevind dat Malakoane ’n week voordat hy weg is by die munisipaliteit, binne een dag miljoene rande se tenders toegestaan het aan meer as tien maatskappye en kontrakteurs sonder dat die normale prosesse nagekom is.
Malakoane is die voormalige LUR van toerisme, omgewings- en ekonomiese sake in die Vrystaat.
Hy was ook verantwoordelik vir ’n kontrak met Mangaung Business Solutions (MBS), wat met R3,5 miljoen toegeneem het tot tussen R21 miljoen en R25 miljoen vir die aanbring van ’n elektroniese stelsel by die munisipaliteit wat nooit gewerk het nie.
MBS se direkteur, Gysbert Johannes Jacobs, wou nie kommentaar lewer nie.
Die kommissie het voorgestel dat die munisipaliteit regstappe instel teen Malakoane en wetstoepassingsagentskappe vra om sy verhouding met die maatskappye aan wie hy kontrakte toegestaan het, te ondersoek.
Die kommissie bevel ook aan dat die raad onmiddellik uittree-pakkette vir die munisipale bestuurder en die uitvoerende direkteure vir maatskaplike ondersteuning en strategiese bestuur, beding.
Malakoane en Qabathe het nie kommentaar gelewer nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad