Verslag kom gou oor SA hospitale
2011-07-05 07:00
Sun City. – ’n Beleidsdokument oor die voorgestelde nasionale gesondheidsversekeringsplan (NGV) is die laaste paar maande vertraag sodat die departement van gesondheid beter vir dié stelsel kan voorberei.
So het dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, Maandag op die Raad op Gesondheidsorgfinansiers (RGF) se konferensie gesê.
Motsoaledi het gesê sy departement het die afgelope 18 maande aan ’n verslag oor toestande in staatshospitale landwyd gewerk.
Die verslag, wat hy binne twee weke bekend wil maak, sal wys watter hospitale die grootste probleme met byvoorbeeld infrastruktuur en ’n personeeltekort het.
Hy het die laaste paar maande gesê die NGV sal nie oornag ingestel word nie en dat die gehalte van sorg in staatshospitale eers moet verbeter.
Motsoaledi vergader tans met hospitaalhoofde in al die provinsies oor die verslag se inhoud.
Volgens mnr. Fidel Hadebe, woordvoerder van die departement, sal die verslag nie inligting oor hoofde se kwalifikasies en vaardighede bevat nie. Dit is ’n aparte ondersoek.
Motsoaledi het gesê die NGV-beleidsdokument sal voor einde vanjaar aan die kabinet voorgelê word.
Die minister het weer hard gekap na die “buitensporige” koste van gesondheidsorg in die private sektor.
Hy meen sekere hospitaalgroepe dien beleggers vir wie dit net oor wins gaan. “Gesondheidsorg is nie bloot ’n sakebedryf nie, dit is ’n maatskaplike diens.”
Private hospitale het die afgelope week gesê tariewe in die staat- en private sektor kan nie regstreeks vergelyk word nie.
Volgens Motsoaledi het mediese fondse, die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging en die Raad op Gesondheidsberoepe sy voorstel oor ’n kommissie om tariewe vir diensverskaffers van private gesondheidsorg te beheer, verwelkom.
Die Hospitaalvereniging is glo daarteen gekant.
Hy praat nog met die Mededingingskommissie oor die moontlikheid om diensverskaffers van gesondheidsorg uit te sluit van dele van die Mededingingswet, wat tans prysvasstelling vir mediese dienste verbied.
Motsoaledi het voorts gesê hy steur hom min aan die uitslag van die komende hofsaak oor voorgeskrewe minimum voordele (VMV) tussen die RGF en die Raad op Mediese Skemas (RMS). Die RMS sê wetgewing bepaal skemas moet VMV, wat ’n lys van chroniese siektes insluit, volledig dek. Skemas meen egter praktisyns buit dit as ’n “oop tjekboek” uit.
Motsoaledi meen alle gesondheidsorgkoste is ’n probleem en nie net VMV nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger