Verpleër vrygespreek op aanklag van verkragting
2013-02-13 11:36
Bloemfontein – 'n Verpleër wat daarvan beskuldig is dat hy 'n sterwende, verlamde kankerpasiënt in die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein verkrag het, is Woensdag in die Bloemfonteinse hooggeregshof vrygespreek op twee aanklagte van verkragting.
Regter Faan Hancke het gesê daar is 'n moontlikheid dat die kankerpasiënt nie verkrag is nie.
Daar was trane van vreugde in die openbare galery, waar sommige van Michael Moema se kollegas gesit het.
'n Emosionele Moema het buite die hof gesê hy is baie verlig. Hy het gesê die bewering dat hy die pasiënt verkrag is was 'n "leuen" en dat "jy nie 'n leuen met die waarheid kan meng nie".
"Ek is baie verlig," het hy gesê.
Adri Krieger, 'n kliniese patoloog, het verlede week getuig dat Magda Lombard sowat 'n jaar lank in die laer gedeelte van haar lyf verlam was toe die beweerde verkragting plaasgevind het.
Krieger het gesê die vrou se beserings was moeilik om te identifiseer en te beskryf. Sy het gesê hoewel sy nie positief kon vasstel of die beserings verband hou met die verkragting nie, kan sy nie die moontlikheid van verkragting uitsluit nie.
Die vrou het aan haar gesê hoewel sy geen gevoel in die laer gedeelte van haar liggaam het nie, het sy geweet wat die aand van die beweerde verkragting plaasgevind het.
Moema is in hegtenis geneem nadat die Lombard, wat intussen gesterf het, beweer het sy is in 'n saal in die hospitaal verkrag. Lombard se man het aan die polisie gesê die aanval het op 15 Oktober plaasgevind.
Die vrou kon nie 'n verpleegster identifiseer wat haar na bewering tydens die voorval vasgehou het nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA