Verpleër vas ná verkragting by hospitaal
2011-10-28 11:04
Bloemfontein – 'n 33-jarige man is in hegtenis geneem nadat hy glo 'n kankerpasiënt in 'n hospitaal in Bloemfontein verkrag het, het die polisie gesê.
Kapt. Harry Nagel, polisiewoordvoerder, het gesê die man is Donderdag in hegtenis geneem vir die beweerde verkragting van 'n 50-jarige vrou terwyl hy by die nasionale hospitaal nagskof gewerk het.
"Die verdagte, 'n verpleër, is by sy huis in hegtenis geneem nadat hy positief uitgeken is tydens 'n foto-uitkenning wat gisteraand (Donderdag) by die hospitaal gehou is."
Nagel het gesê die vrou kon nie die vroulike medepligtige, wat glo die man gehelp het, uitken nie.
Die siek vrou se man het die polisie ingelig van die aanval wat op 15 Oktober plaasgevind het.
Volgens die vrou het 'n verpleegster haar vasgehou terwyl die man haar verkrag het.
Die twee personeellede is geskors toe die nuus vroeër vandeesweek gebreek het.
Nagel het gesê die polisie wag vir forensiese toetse.
Die man verskyn Vrydagoggend in die Bloemfontein-landdroshof op aanklag van verkragting.
Die Raad op Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGSA) het gesê hy sal die gedrag van dokters, wat na bewering die vrou se klagtes oor die voorval ignoreer het, ondersoek.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA