Verpleër pleeg selfmoord by hospitaal
2011-06-13 22:01
Johannesburg – ‘n Verpleër het selfmoord gepleeg by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg, het die Gautengse departement van gesondheid Maandag gesê.
“Ander studente het Sondag rondom middagete tyd opgemerk dat Musawakhe Mazibuko, ‘n derdejaar manlike verpleegstudent, beplan het om selfmoord te pleeg en hulle het onmiddellik interne sekuriteitspersoneel gekontak,” het woordvoerder Sello Mokoena gesê.
Hulle het die polisie en ‘n onderhandelaar gekontak, sowel as paramedici en die verpleegbestuurder wat aan diens was. Hulle het ook Musawakhe se suster Thandeka gekontak nadat hy gevra het om haar te sien.
Die 24-jarige het gevolglik uit ‘n venster op die 12de verdieping gespring.
Ntombi Mekgwe, die Gautengse LUR vir gesondheid, het haar medelye aan die Mazibuko-familie uitgespreek.
“Ons gebede gaan uit aan julle tydens hierdie moeilike tyd en ons sal voortgaan om die Here te vra om julle te voorsien met krag om julle verlies te kan hanteer.”
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA