Verpleër in hof wat kankerpasiënt verkrag
2013-02-06 11:18
Johannesburg – ‘n Verpleër wat na bewering ‘n verlamde kankerpasiënt in die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein verkrag het, het Dinsdag in die Vrystaatse hooggeregshof verskyn.
Die voorval het in Oktober 2011 plaasgevind.
Die pasiënt, Magda Lombard, wat 51 was ten tyde van die voorval, is ‘n maand daarna in die Bloemfontein Medi Clinic dood, het Beeld Woensdag berig.
Volgens die oorlede vrou se verklaring, wat in die hof deur die ondersoekbeampte Arlene Snyman uitgelees is, het die beskuldigde, Michael Moema (33), saam met ‘n ander verpleër, Janette Kgoame, by haar kamer ingegaan en haar seksueel aangerand.
Kgoame het Moema glo gehelp om Lombard te posisioneer sodat hy haar kan penetreer. Sy het later haar hand oor Lombard se mond geplaas om haar te verhoed om ‘n lawaai te maak.
“Die vrou het gesê ek moet stilbly,” het Lombard in haar verklaring gesê. Sy het die verklaring twee dae ná die aanval aan kapt. Francois Laux gegee.
Sy was ten tye van die aanval reeds vir meer as ‘n jaar verlam van die middellyf ondertoe.
Kgoeme het geweier om ‘n verklaring af te lê en het gesê sy sal vir Moema getuig.
Die verhoor duur voort.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA