Verpleër 30 jaar tronk toe
2011-11-25 09:00
Welkom – ’n Verpleër van die stad is vir 30 jaar tronk toe gestuur nadat hy ’n 14-jarige meisie wat hom as ’n vaderfiguur beskou het, verkrag het.
Sers. Puleng Motsoeneng, polisiewoordvoerder, sê die meisie se ma was in diens van Mohlophehi Joseph Radebe en is afgedank nadat dit bekend geword het dat hy die meisie verkrag het.
Radebe is op twee aanklagte van verkragting skuldig bevind en op die eerste aanklag tot 12 jaar gevangenisstraf en op die tweede een tot 18 jaar gevonnis.
Radebe se vrou was in Februarie 2009 in die hospitaal. Hy het die slagoffer na ’n gastekamer in sy huis in Riebeeckstad geneem, haar op die bed neergelê, haar mond toegedruk en haar seksueel gemolesteer.
Die slagoffer het geweet sy en haar ma is finansieel afhanklik van Radebe en sy was bang dat haar ma haar werk sou verloor as sy die voorval sou aanmeld.
In April 2009 was Radebe se vrou by die werk toe hy die slagoffer na sy kamer geroep het en haar verkrag het.
’n Week later het die slagoffer in ’n boek oor die voorval geskryf en ’n tienjarige familielid het dit gelees en haar gekonfronteer.
Die slagoffer se ma het die gesprek gehoor en dit is by die polisiediens aangemeld.
Abram Xaba, aanklaer, het gesê Radebe was soos ’n pa vir die meisie en hy het misbruik van haar kwesbaarheid gemaak.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad