Verpleegster rand pasiënt met besemstok aan
2010-08-24 22:04
Johannesburg – ‘n Verpleegster het glo ‘n pasiënt met ‘n geestesversteuring by die Mokopane Hospitaal in Polokwane met ‘n besemstok aangeval, het Limpopo se departement van gesondheid Dinsdag gesê.
“Ek is geskok oor die verpleegster se optrede. Hy was veronderstel om deernisvol en besorgd teenoor ons pasiënt te wees en tog het hy presies die teenoorgestelde gedoen,” het Miriam Segabutla, die provinsie se LUR vir gesondheid en sosiale ontwikkeling, in ‘n verklaring gesê.
Daar word beweer dat ‘n bakleiery op 16 Augustus tussen die verpleegster, David Kekana, en ‘n 37-jarige psigiatriese pasiënt by die hospitaal uitgebreek het.
Kekana het glo ‘n besemstok gegryp en die pasiënt in die gesig, bors en op sy hande geslaan.
Polisie is na die hospitaal ontbied, waar die verpleegster in hegtenis geneem is .
Kekana het reeds ‘n boete van R500 as erkenning van skuld betaal.
Die pasiënt herstel nog in dieselfde hospitaal waar hy aangeval is.
“Ons neem dus die nodige dissiplinêre aksie en mag hom moontlik ook uit sy pos verwyder om die veiligheid van ons pasiënte te verseker,” het Segabutla gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA