Verpleegster: Los my om te werk
2010-08-20 10:38
Johannesburg – ‘n Verpleegster wat in ‘n staatshospitaal in Johannesburg werk het boodskappe van haar ervaring tydens die landswye stakings deur staatsdienswerkers op Twitter geplaas en gesê dat sy Vrydag senuweeagtig was om terug te keer werk toe.
Die verpleegster, wat haarself Andy Wandy noem, het Vrydag voor 08:00 getweet: “’n Vriend het gesê dat betogers reeds probleme by ‘n hospitaal veroorsaak - sy woon in ‘n koshuis daar en is te bang om haar kamer te verlaat.”
Sy het 07:00 aan haar sowat 800-volgelinge op die sosiale netwerk gesê: “Goeiemore almal! Vriende op nagskof is aangesê om nie te werk nie... Amper tyd vir my om die situasie te gaan uitkyk.”
Sy het Donderdag begin tweet toe die stakende gesondheidsdienswerkers hospitaaldienste erg begin ontwrig het.
In een van haar boodskappe het sy gesê: “Hulle (die stakers) is terug, gaan deur die sale, breek die sekuriteitshekke af. Ek dink ek sal in die badkamer gaan wegkruip.”
“Ek is veilig buite! Een van die vreesaanjaendste oomblikke van my lewe. Die arme pasiënte. Ek was veilig omdat ek soos ‘n dokter aangetrek en ‘n stetoskoop om my nek gehang het,” was die daaropvolgende boodskap.
In nog ‘n boodskap het sy gesê: “Een van die ergste dinge van vandag was om te sien hoe die pasiënte besef dat ons in absolute vrees werk.”
Sy het Vrydagoggend voor werk gesê daar is aan haar gesê dat dit nie veilig is om werk toe te gaan nie en dat sy eerder nie moet ingaan nie.
“Kan nie vir julle sê hoe skuldig ek voel nie. Ek kan nie ophou om aan my pasiënt met die septiese wond te dink nie. Haar verband moet vandag geruil word.”
Volg AndyWandy op Twitter
Volg Nuus24 op Twitter
– Is jy op een of ander manier geraak deur stakings? Stuur jou foto's of storie aan ons.
- SAPA