Vermoorde se bure bestee R15 000 aan veiligheid
2010-05-18 13:15
Nicolize van der Walt, Beeld
Parys – Een van die boere in die omgewing waar Johan Strydom verlede Saterdag wreed vermoor is, bestee maandeliks tot R15 000 om sy plaas te beveilig.
Dit sluit onder meer betaling vir veiligheidswagte, sowat 24 kringtelevisies, ’n elektriese omheining en alarmstelsels in.
“Die boere in hierdie streek maak 60% van die sorghumgraanprodusente in die land uit. Boere kan nie meer veilig werk en leef nie,” het dr. Frikkie Labuschagne, wat in die omgewing boer en Strydom se roudiens Vrydag gaan lei, gister gesê.
“Hulle is sigbaar emosioneel oor die moord. Die syfers oor geweld het nou ’n naam en ’n van gekry – ons vat dit bitter persoonlik.’’
Strydom is Saterdag by sy plaashek in die Buffelshoek-omgewing naby Parys doodgeslaan en daarna met sy eie bakkie met ’n tou tot in die pakkamer gesleep.
Vriende en bure het gesê hy was bekend om sy ruimhartigheid, sy liefde vir blomme en die Franse dashonde (bassets) wat hy geteel het.
“Johan was ’n liefdevolle mens wat niemand te na gekom het nie,” het Labuschagne oor sy vriend gesê. “Dit was ’n sinnelose moord. Ons moet aanhou leef en sin gee aan Johan se lewe. Ek wil ’n blomkweker nader om ’n roos na hom te noem of ’n sendingtrustfonds in sy naam op die been bring.
“Deur alles deur mag die dood ons nie beroof nie. Ons moet dit vanuit ’n Christelike lens benader en volgens die riglyne van die evangelie.’’
Bees- en saaiboere in die omgewing, wat deel van die Vredefort-koepel-bewaringsgebied uitmaak, bestee maandeliks reeds derduisende rande aan die beveiliging van hul plase en eiendom.
“Die staat het ’n plig om toe te sien dat boere beveilig word,” het Labuschagne gesê. “Hierdie boere in die omgewing is voedselprodusente, maar hul stem word nie gehoor nie. Ek sien die tendens die afgelope twee jaar dat boere oorgaan tot radikale beveiliging.”
Boere het gistermiddag reeds ’n vergadering oor beveiligingsplanne vir hul gemeenskap gehou.
“Ons wil boere aanmoedig om die gebied in sektore te verdeel wat gereeld gepatrolleer word,” het Vickie van der Westhuizen, wat ook daar boer, gesê. “Dit sal help om diefstal te bekamp. As die diefstal ophou, sal die aanvalle ook ophou.’’
Die sektore word van ’n sentrale plek gemonitor, het hy gesê.
“Ek bly in die dorp, maar bestee meer as R2 000 per maand om my plaas veilig te hou. As my familie daar gebly het, sou dit baie, baie meer gekos het om alles te beveilig.”
Die begrafnisdiens vind Vrydag om 14:00 in die Hervormde kerk Parys plaas.