Regter se weduwee 'wou nie regbank misken'
2011-09-03 08:19
Kaapstad – Geklee in ’n netjiese bruin snyerspakkie, swart skoene en ’n bruin en swart kopdoek het die weduwee van die regter wat in Junie 2009 in Kaapstad vermoor is, gesê sy het nie bedoel om die regbank of staat te misken nie.
Sy was siek en in die hospitaal, het Thandi Maqubela (55) gister getuig in ’n borgtogondersoek nadat sy versuim het om op 25 Julie in die Wes-Kaapse hooggeregshof te verskyn.
Sy word aangekla van die moord op haar man, wyle waarnemende regter Patrick Maqubela.
Regter John Murphy het ’n lasbrief vir haar inhegtenisneming uitgereik en haar borgtog voorwaardelik teruggetrek toe sy nie op 25 Julie by die hof opgedaag het nie. Nou moet sy verduidelik waarom sy nie opgedaag het nie en waarom die regter nie haar borgtog van R100000 aan die staat verbeurd moet verklaar nie.
Maqubela het gister getuig dat sy rondom die 19de Julie verskriklik siek begin voel het.
Sy het lighoofdig geword, hoofpyn en pyne in haar bors gekry en ook gou moeg geword.
Nadat sy verskeie kere na ’n private hospitaal in Johannesburg vir behandeling vir haar simptome gegaan het, is sy uiteindelik die aand van 25 Julie in die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg opgeneem.
Sy is op 30 Julie in die hospitaal deur die polisie in “hegtenis” geneem.
Maqubela het getuig dat sy haar broer gevra het om haar mediese verslae aan haar regsverteenwoordiger in Kaapstad te stuur. Sy het haarself ook elke dag by die Sandton-polisiekantoor aangemeld.
Die saak is tot Vrydag uitgestel. Die staatsaanklaer is adv. Bonnie Currie-Gamwo en adv. Philip Higgo verskyn vir Maqubela.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger