Vermoorde regter se weduwee opgespoor
2011-07-29 09:02
Kaapstad - Thandi Maqubela is opgespoor.
Sy is na verneem word in die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg, waar sy onder polisiebewaking aangehou word.
Maqubela is sedert Maandag deur die polisie gesoek nadat sy nie vir ’n verskyning in die Wes-Kaapse hooggeregshof opgedaag het nie.
Regter John Murphy het ’n lasbrief vir haar inhegtenisneming uitgereik nadat nóg die staat nóg haar regsverteenwoordigers of die polisie geweet het waar sy haar bevind.
Sy het ook een van haar borgtogvoorwaardes verbreek en haar borgtog van R100 000 is deur Murphy teruggetrek.
Die staatsaanklaer, adv. Bonnie Currie-Gamwo, het Maandag aan die hof gesê Maqubela het nie die staat of die ondersoekbeampte ingelig dat sy nie meer by die Sandton-adres woon wat aan die hof verskaf is nie.
Kapt. F.C. van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê Maqubela is al Maandagaand in hegtenis geneem.
Niemand kon egter tot dusver sê wat die aard van haar se siekte is nie.
Maqubela en Vela Mabena word aangekla van die moord op haar man, waarnemende regter Patrick Maqubela, in Junie 2009.
Die regter se lyk is op Sondag 7 Junie in sy woonstel gevind.
Hy was met ’n kombers toegemaak, met ’n bloedbesmeerde kussing skuins oor sy gesig.
Aanvanklik is daar gedink dat die regter aan natuurlike oorsake dood is.
Die Dinsdag ná sy lyk gevind is, het die polisie egter gesê hulle ondersoek ’n moord.
Maqubela is meer as nege maande later, op 25 Maart verlede jaar, by haar huis in Sandton deur die ondersoekbeamptes, lt.kol. Reynold Talmakkies en lt.kol. Jo-ash Dryden, in hegtenis geneem.
Mabena is dieselfde aand in Kaapstad in hegtenis geneem.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die direktoraat van openbare vervolging, het gesê Maqubela sal voor ’n hof gedaag word sodra sy uit die hospitaal ontslaan word.
’n Volgende voorverhoorkonferensie is vir 8 Augustus geskeduleer.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger