Vermoorde nagklub-baas se ouers koester geen wrok
2012-02-09 08:00
Fotogalery - GALERY: Kaapse nagklubeienaar vermoor
klik op klein foto bo om groter prentjie te sien
Bloemfontein – Hoewel hul liefdevolle seun en enigste broer wreed vermoor is, koester die Bloemfonteinse familie van Bruno Brönn geen wrok teen die moordenaar of moordenaars nie.
“Ons soek nie antwoorde nie en wil nie bespiegel oor wat gebeur het nie. Dit gaan nie ons lewe verander, of hom terugbring nie,” sê sy broer, Reinier Brönn (44), Bloemfonteinse argitek en fotograaf.
Bruno Brönn (49), eienaar van die bekende gay-vriendelike nagklubs Bronx en Navigaytion in Kaapstad, is Dinsdagoggend vroeg dood deur sy huishulp in sy Kaapse huis aangetref.
Hy het in Bloemfontein grootgeword en die afgelope 20 jaar in Kaapstad gewoon en gewerk.
Sy broer in Bloemfontein sê dit is vir hul klein gesin baie moelik om sy dood te verwerk.
“’n Luitenant van die polisie het my gister (Dinsdag) uit die Kaap gebel en gesê hy het slegte nuus vir my. Ek het dit op my geneem om my ouers te vertel. Dit was sekerlik die moeilikste ding wat ek nog moes doen. Al is ons volwasse mans, sal ons altyd hul kinders bly.”
Hul ouers, Willie en Anita Brönn, het hul seun in Desember laas gesien toe hulle hul 50ste huweliksherdenking by hom gevier het. Hy het hulle altyd vreeslik bederf.
Mev. Brönn en haar oudste seun het ’n baie nou band gehad.
Sy sê: “Hy het my elke Saterdag 12:00 gebel. Hoewel hy baie druk by sy werk ervaar het, was hy gelukkig en ons kon enigiets met mekaar deel.”
Mnr. Brönn sr. sê sy seun het geleef vir wat hy doen.
“Hy was ’n ongelooflike toegewyde man, ’n perfeksionis. Sy werk het hom Kaap toe gelei, maar ons het gereeld kontak gehad.”
Reinier het gesê sy broer was van kleins af altyd vir hom ’n inspirasie.
Reinier en sy vrou, Liesl, vlieg vandag Kaapstad toe om sy broer uit te ken en om die nodige reëlings te tref.
Intussen het huldeblyke op die klub se Facebook-blad ingestroom. Reinier sê sy broer se wens sou gewees het: “The show must go on.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad