Vermoorde kind glo deur suster uitgeken
2012-11-13 11:25
Johannesburg – Die familie van 'n vermiste negejarige seun het sy lyk by die Tshwane-staatslykhuis gevind, het Beeld Dinsdag berig.
Hy is keelaf gesny.
Riaan Lebembe, 'n leerder aan die laerskool Masakhane in Hammanskraal, het verlede Dinsdag op pad skool toe verdwyn.
Die polisie het Vrydag 'n kind se lyk in die bosse in Silvertondale gevind.
"Die kind se ma het verlede week aan haar werkgewer gesê haar seun is vermis," het sers. Portia Maleka, polisiewoordvoerder, gesê.
"Die werkgewer het 'n berig in Beeld gelees oor 'n vermiste kind en het haar Maandag gevra of sy haar kind opgespoor het. Toe sy nee sê, het hy haar na die polisie verwys."
Die ma, wie se identiteit nie bekend gemaak is, nie, het haar dogter, Johanna Lebembe, Maandag na die Silverton-polisiekantoor gestuur. Die polisie het Lebembe na die lykhuis geneem, waar sy haar broer uitgeken het.
Die polisie vermoed die negejarige Riaan is elders vermoor voor sy lyk in die bosse in Silvertondale gegooi is.
Persone met inligting is gevra om die Silverton-polisiekantoor te kontak.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA