Vermoorde egpaar ter ruste gelê
2010-01-13 09:07
Charles Smith
Senekal – Die vermoorde Van Zyl-egpaar, Koos en Retha, is in die ou tuin van haar geboorteplaas Beth-saida ter ruste gelê.
As kind het sy en haar sussies hier onder die ou peer- en vyebome wegkruipertjie gespeel op die plaas genoem na die plek waar Jesus baie mense met vyf brode en vyf visse gevoed het.
Die tyd voordat die egpaar, wat onafskeidbaar was, op hul naburige woonplaas Poortjie doodgeskiet is, het sy dié huis elke dag besoek, uitgevee en vensters en gordyne oopgemaak.
Nou hang jong, halfryp pere oor twee vars hope grond agter die koelkamer waarop turksvye groei.
’n Granaatbos blom bloedrooi in die hoek waar twee klippale aan ’n geroeste heining hang.
’n Veewagter skuif op sy perd in die pad verby die huis en ’n windpomp flits in die helder sonlig as ds. Jannie Erasmus, leraar van die AP kerk wat die teraardebestelling waargeneem het, bid: “Ons Vader in die hemel, ons raak stil voor U. Die angswekkende dinge wat dié week hier gebeur het, het wonde by menigte geslaan.”
Boere kou aan hul lippe.
’n Jaar of agt gelede het oom Koos self só langs sy groot vriend, oom Jannie Meiring (76) van die plaas Prospect, se graf gestaan nadat hy die vorige boer hier is wat vermoor is.
“Hy was soos my broer. Hy het niemand leed aangedoen nie. Dit is lelik dat hy op hierdie wyse moes doodgaan. Die dinge moet stop. Ons kan nie so aangaan nie. Elke dag word mense doodgemaak. Dit is onnodig,” het oom Koos tóé aan Volksblad gesê.
Dinge het nie gestop nie.
Nou groet Senekal oom Koos – én tant Retha.
Die twee groot vriende het in 1986 identiese Toyota-bakkies op Kroonstad gekoop. Oom Jannie, ’n alleenloper, het sy bakkie ná sy dood aan sy vriend nagelaat. Nou staan die twee bakkies langs mekaar in oom Koos se skuur.
Erik van Zyl, ’n seun wat die eerste keer in agt jaar vir Kersfees op die plaas was, het net teruggevlieg na Amerika toe hy die boodskap oor sy ouers kry. Hy huil hartstogtelik en los ’n bos pienk en wit kosmos in sy ma se graf.
Hy druk sy susters, Estie en Marietjie, styf vas as hulle roosblare in die grafte gooi.
“Ons vra dat U die kinders toevou in U liefde. Wanneer die wonde genees is, bid ons dat u die leemtes sal vul,” het die dominee gebid.
“Voordat ek oorsee is, het my ma gesê ons moet praat. Sy het gesê sy wil graag hier begrawe word, op haar pa se plaas. Sy was elke dag hier; ek sou die gras sny en sy sou binne doenig wees,” sê Erik.
Hy kyk stip na die hope grond onder die kareebome wat op die kiste plof.
“Hier is vrede op hierdie plaas. Dit is waar hulle grootgeword het. Dit is waar my ma sal rus. Dit is waar my pa sal rus.”
Oom George van Zyl (69) van Bloemfontein sit sy hand om Erik se skouers. Koos is die eerste van die tien Van Zyl-kinders van Verkeerdevlei wat dood is. Hy was die naasjongste van vyf seuns.
Die susters sê die Van Zyl-sirkel is nou gebreek met Koos wat weg is.
Hulle het nog die aand voor die moorde met Retha gepraat, maar sy was onrustig.
Sy vrou, Doreen, sê: “Sy het gewag vir haar seun om uit Amerika te bel. Sy was baie onrustig. ‘Hoekom bel hy nie?’ het sy heeltyd gevra. Ons vermoed sy het iets aangevoel.”
Tant Doreen se skouers ruk.
“Hulle was onafskeidbaar. Die familie was bekommerd oor hulle, maar almal het gesê hulle is plaasmense. Hulle sal nie op die dorp aard nie. Hulle wil naby beeste wees, naby grond...”
April Modibedi kyk stip na die grafte. Sy vrou, Aletta, en Sarah Taso het vars, wit veldblommetjies in die graf gegooi.
“Ons het ’n lang tyd saamgewerk. Hy was ’n goeie man. Hy het ons baie gehelp. As ek ’n skaap gesoek het, help hy my. My hart is baie seer.”
Die Modibedi’s se seun, Edward, het saam met die vermeende moordenaar, mnr. Petrus Ndaba, vir die Van Zyls gewerk.
Ndaba het glo aangedui hulle het hom R250 geskuld. Maar die Modibedi’s weet niks hiervan nie. Hulle wil hom nie eens sien nie.
- Volksblad