Vermoorde dominee se seun in hof
2012-11-12 07:00
Harrismith – Die aangenome seun van 'n dominee van Harrismith wat verlede week aangeval is, en 'n medepligtige sal Maandag weens sy moord in die hof verskyn, berig OFM.
Ds. Willem Brits en sy aanstaande skoonseun, Gerhardus Vermeulen, is verlede week in sy pastoriehuis vermoor en sy vrou, Dorothea, is erg aangerand.
Die eerste verdagte is Donderdagaand aangekeer en die dominee se aangenome seun, Martin, is kort daarna in hegtenis geneem.
Dorothea het Sondag 'n terugslag gehad en is weens erge hoofbeserings in 'n kritieke, onstabiele toestand. Die egpaar se ander drie kinders, Thea, David en Willie, sal Dinsdag na Bloemfontein reis om hul ma in die Mediclinic Bloemfontein te besoek.
Intussen het AJ Scherrer, familiewoordvoerder, gesê Brits word Vrydag 11:00 uit die NG Gemeente Kerkenberg begrawe.
Dit is nie bekend wanneer 'n roudiens vir Vermeulen gehou sal word nie.
Scherrer het bevestig dat die seun wat tans agter tralies is, reeds vantevore in die tronk was weens bedrog. Scherrer sê die ander drie kinders is tans in 'n plek van veiligheid om hulle teen die media te beskerm.
– Volg Nuus24 op Twitter