Vermoorde boer word op plaas ter ruste gelê
2011-12-16 10:30
Oudtshoorn – Die boer wat op sy plaas in die Merweville-distrik vermoor is, word Sondagoggend begrawe.
Fritz Snyders (33) is Maandag omstreeks 17:00 na bewering deur ’n 17-jarige plaaswerker op die plaas Kafferskraal met ’n mediumkaliber-jaggeweer doodgeskiet.
“Die begrafnisdiens vind Sondag om 09:00 in die NG kerk op Merweville plaas,” het Ferdi Botes, ’n hegte vriend van die Snyders-familie, Donderdag gesê.
“Die teraardebestelling sal op die plaas Bekersfontein plaasvind.” Bekersfontein is sowat 40 km van Merweville. Sy ouers woon op dié plaas.
“Hy wou altyd maar net boer. Nadat hy en Suzanne getroud is, het hulle die plaas Kafferskraal bygehuur en die jong egpaar het daar gewoon.”
Die plaaswerker verskyn Dinsdag in die landdroshof op Beaufort-Wes.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger