Vermoorde Vredendal-meisie ook verkrag
2011-05-11 19:01
Johannesburg - ‘n Driejarige meisie wat dood op ‘n plaas in die Vredendal-gebied aangetref is, is verkrag, het die Wes-Kaapse polisie Woensdag gesê.
Volgens ao. November Filander het ‘n nadoodse ondersoek aangedui dat sy verkrag is, óf voor óf nadat sy met ‘n stomp voorwerp doodgeslaan is.
Hy het gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar ‘n saak van nalatigheid teen die meisie se ouers word ondersoek.
Die saak is na die senior staansaanklaer verwys. Dié sal besluit of die ouers aangekla moet word.
'n Werker in die wingerde op ‘n plaas naby Vredendal het op die meisie se lyk afgekom.
Filander sê sy het haar pa Sondagmiddag besoek, maar toe sy nie Maandagoggend teruggekeer het nie, het haar ma haar as vermis aangemeld.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA