Vermoorde Reitz-boer roerend gegroet
2011-08-11 08:02
Reitz – Terwyl die familie en vriende van Suid-Afrika se jongste plaasmoord-slagoffer, Thinus Uitenweerde (55), Woensdag hier rou en seer langs sy graf gestaan het, het die vermeende moordenaars op Bethlehem in die beskuldigdebank gestaan en is borgtog aan hulle geweier.
Onder die roubeklaers in die ou sendingstasie Ethembeni en langs die graf op die familieplaas Aliesrust was Uitenweerde se 85-jarige ma, Bella, wat Sondag twee weke gelede deur haar seun se twee vermeende moordenaars verkrag is.
Die vermoorde Uitenweerde se bedlêende weduwee, Margriet, kon nie by die graf van haar man afskeid neem nie. Sy is steeds in die hospitaal op Behtlehem ná daardie nag van hel waarin sy 20 uur lank hulpeloos en magteloos op die koue vloer langs die bed bly lê het, nadat haar man wreed vermoor en haar skoonma verkrag is.
In die ou sendingstasie was ds. Marius Barnard, van die NG kerk Reitz, se boodskap uit Psalm 1. Dit was op versoek van die vermoorde Uitenweerde se seun, Martin.
“Dit voel amper nie reg om op die geleentheid die digter se woorde voor te lees dat dit goed gaan met die mens nie,” het Barnard gesê. “Maar ek is bly Martin het daarvoor gevra, want dit gaan goed met die mens wat in ’n bewuste verhouding met die Hemelse Vader is. Mense kan ons leed aandoen, mense kan ons aanrand, maar die Here is by ons.”
Plaasmoord is nie iets wat mense van die land in die verlede geken het soos vandag nie, het Barnard gesê.
“Plaasmoord het veroorsaak dat vrees en agterdog deel geword het van ons lewens... Wat hier gebeur het, is die direkte werke van Satan. Ons troos is net dat niks ons van die liefde van God kan skei nie. Ons kan dus nie toelaat dat haat en vergelding ook deel van ons lewens word nie.”
Haar seun was ’n steunpilaar, het die bejaarde mev. Uitenweerde in die gedenkdiens gesê.
Hy was ’n stil en vredeliewende mens, is in van die ander huldigingsboodskappe gesê.
Later, op Aliesrust, is mnr. Uitenweerde begrawe, nie ver van die vlak graf af nie waar sy moordenaar hom, gewond en vasgebind, gestenig het.
Voordat die kis in die aarde afgesak het, het plaaswerkers spontaan ’n loflied gesing.
Die vermoorde Uitenweerde se drie seuns, Hendri, Martin en die jong Cobus, het elk ’n handvol grond op die kis gegooi – grond van die plaas wat tot twee weke gelede vir familie en vriende ’n plek van geluk en mooi herinneringe was.
Vir die weduwee wat nie daar kon wees nie, het ds. Henry Botha, leraar van die Sewendedagse Adventistekerk, ingestaan. Langs haar vermoorde man se graf het hy vir haar gebid.
Bemoedigende hande het Bella Uitenweerde by die graf van haar lieflingkind vertroos en uiteindelik weggelei.
Op dié plaas, waar sy geboortereg het, kan en wil sy nie meer bly nie. Sy gaan nou by familie woon.
Terwyl Uitenweerde Woensdag hier begrawe is, is in die streekhof op Bethlehem borgtog aan die twee vermeende moordenaars en verkragters, albei tieners, geweier.
Hulle moet weer op 24 Augustus in die hof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad