Vermiste se lyk dag ná sy verdwyning in veld gekry
2010-11-06 08:17
Pretoria - Die lyk van ’n man van Bronkhorstspruit wat Woensdag op pad na Pretoria verdwyn het, is eergister in ’n stuk veld in Zonkololo in Cullinan, oos van Pretoria, gevind.
Greg Smith (50) is met ’n plastiekkabel verwurg. Dit was nog om sy nek toe die polisie op die toneel kom. Hy is ook erg aangerand.
Kapt. Sam Tselana, polisiewoordvoerder, het gesê Smith se lyk het sowat ’n meter van sy bakkie gelê.
“Sy beursie en ID-boekie was in die bakkie en daar was geen teken van diefstal nie,” het Tselana gesê.
Marietjie van der Merwe (42), Smith se lewensmaat van die afgelope sewe jaar, het gister gesê die stootwaentjie wat aan Smith se bakkie geheg was, word vermis.
Volgens haar is Smith Woensdag 06:00 by die huis weg om ’n kliënt te gaan spreek. “Hy het boumateriaal verkoop en eers ’n kliënt gaan sien en sou dan na Pretoria gaan om vensterrame te gaan oplaai.
“Ek het die oggend 09:00 met hom gepraat en hy het gesê sy selfoon se battery is pap, maar dat hy teen 12:00 terug op die dorp sal wees om dit te herlaai. Dit was die laaste wat ek van hom gehoor het,” het Van der Merwe gesê.
Toe hy laatnag nog nie tuis was nie, het sy bekommerd geraak en die volgende oggend vroeg is sy na die Bronkhorstspruit-polisiekantoor om hulp te gaan soek.
“Ek het gevra dat die ander polisiekantore gekontak word om te hoor of Greg dalk in ’n ongeluk was, maar hulle het my weggewys.
“Iemand het gesê ek moet by die honde-eenheid in Bronkhorstspruit gaan hulp soek,” het Van der Merwe vertel.
Daar het hulle onmiddellik al die hospitale en polisiekantore gekontak om te hoor of hulle dalk gereageer het op ’n voorval waarin Smith moontlik betrokke kon wees, maar daar was niks.
Van der Merwe het intussen ná ’n gesukkel by die Bronkhorstspruit-polisiekantoor ’n saak oor ’n vermiste persoon aanhangig gemaak.
Teen 15:00 die middag is Smith se bakkie verlate in Zonkololo gekry en sy lyk ’n ent daarvandaan.
Volgens Van der Merwe is sy nie bewus van vyande wat hy dalk gehad het nie. “Ek vrees nou vir my en ons kinders,” het sy bekommerd
gesê.
Tselana het gesê die polisie ondersoek ’n moordklag en dat hulle besig is om verskeie leidrade op te volg.
- Beeld