Vermiste man (68) bewusteloos gevind
2010-10-20 06:30
Die Burger
Kaapstad - Die man met alzheimersiekte wat die naweek in Witsand vermis geraak het, is Dinsdagmiddag gevind.
Frik van Niekerk (68) het sowat 300m van die huis in Witsand waar hy vakansie gehou het bewusteloos in die bosse gelê, het Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), Dinsdag gesê.
Van Niekerk is in ’n stabiele toestand na die Bay View-kliniek in Mosselbaai gebring.
’n Vrywilliger van die NSRI het hom Dinsdag omstreeks 12:40 gekry. Dit is nog nie duidelik waar hy al die tyd was nie.
Die polisie en lede van die gemeenskap het ook aan die soektog deelgeneem.
“Die gemeenskap is ongelooflik,” het Suzette de Wet, een van Van Niekerk se dogters, Dinsdag gesê. “Ek hoor van die mense het hul winkels gesluit om te gaan help soek.”
Van Niekerk, van Edenvale aan die Oos-Rand, en sy vrou, Marie, kuier sedert twee weke gelede in Witsand by familie om walvisse te kyk. Hulle het Saterdagoggend gedink hy slaap nog, maar toe hulle in sy kamer gaan kyk, was hy nie daar nie.
Die familie, polisie, NSRI en die gemeenskap het sedertdien na hom gesoek. Hulle het ook koerante en radiostasies gevra om te help.
De Wet en een van haar broers, Hardus van Niekerk, ’n suster, Loumarda Hanekom, en ’n skoonsuster het Dinsdagoggend douvoordag uit Gauteng na Witsand vertrek en het pamflette opgesit waar hulle langs die pad gestop het. “Ons was bekommerd dat iemand hom sou oplaai.”
Die twee jongste susters, Elmarie van Vuuren en Riana Nieuwoudt, het in Edenvale agtergebly vir ingeval hul pa daar sou aankom. Hul ander broer, Frik van Niekerk jr., het Dinsdag uit Nieu-Seeland in Suid-Afrika aangekom.
De Wet-hulle was in Middelburg toe hulle gehoor het hul pa is gevind. “Ons wil dankie sê vir almal. Dankie, dankie, dankie met uitroeptekens. Al die eer aan die Here.”
Volgens haar het mense van oor die land heen gebel om hulle te bemoedig. “Selfs mense wat ons nie ken nie, het gebel.”
- Die Burger