Vermiste ma se lyk gevind
2010-08-01 17:56
Johannesburg – Die polisie het die lyk van die ma gevind wat vermis geraak het nadat haar twee dogters dood in hul huis in Theresa Park aangetref is.
“Haar lyk is Sondag gevind in ‘n veld naby Ga Rankuwa,” het Musa Zondi, polisiewoordvoerder, gesê.
‘n Verbyganger het glo op die vrou se lyk afgekom.
“Sy is doodgesteek. Daar was ‘n steekwond in haar nek en een naby haar oor. Sy was halfkaal gevind,” het Zondi gesê.
Die vrou se twee dogters se lyke is Vrydag deur ‘n vriend van die gesin gevind.
Die polisie het dadelik met ‘n soektog begin nadat die ma van die kinders nêrens te vinde was nie. Haar motor was ook weg.
Beeld het Saterdag berig dat die vrou die eggenote was van die neef van die voormalige minister van provinsiale en plaaslike regering, Sydney Mufamadi.
Haar man is Februarie in 'n motorongeluk dood.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA