Vermiste 'lyk' lê dronk in hospitaal
2010-10-14 08:14
Johannesburg - ’n Soektog na die “lyk” van ’n vrou wat Woensdagoggend buite Nelspruit langs die pad opgemerk is, maar by die polisie se aankoms weg was, is afgelas nadat sy beskonke in ’n hospitaal gekry is.
Die grootskaalse soektog is deur die polisie, inwoners van die Renosterkop-hoewes en ’n veiligheidsmaatskappy begin toe ’n hoewebewoner se huiswerker omstreeks 07:00 afgekom het op die vrou wat sy gedink het dood is.
Die huiswerker het weggehardloop en hulp by haar werkgewer gaan soek.
By die polisie se aankoms op die toneel was die vrou nêrens te vinde nie.
Die nuus oor die verdwene “lyk” het soos ’n veldbrand deur Renosterkop getrek en baie van die inwoners het met ’n soektog begin.
Selfs lede van verskeie veiligheidsmaatskappye het aan die soektog deelgeneem.
Toe die soektog in die digte bosse langs die pad niks oplewer nie, is navraag by die lykhuise en plaaslike hospitale gedoen.
Die “lyk” is toe in die Rob Ferreira-hospitaal ontdek.
Blykbaar was die vrou net erg beskonke.
Sy het glo die vorige nag in ’n kroeg in die stad gekuier en in die vroeë oggendure besluit om huis toe te loop.
In ’n stadium het sy sowat 6 km buite die stad op die Uitkyk-pad langs die pad gaan lê en aan die slaap geraak.
Terwyl die verskrikte werker hulp gaan soek het, het ’n barmhartige Samaritaan op die vrou afgekom en haar hospitaal toe gevat.
Ao. Dawie Pretorius, polisiewoordvoerder, het bevestig die soektog is aan die gang gesit, maar later afgelas.
“Sy was veilig in die hospitaal en nie enigsins beseer nie.”
- Beeld