Vermiste duiker op straat gevind
2009-11-04 15:53
Kaapstad - ‘n Duiker wat as vermis aangemeld is is Woensdagoggend gevind terwyl hy langs die pad geloop het, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gesê.
"Ons het hom gevind waar hy in die pad af gestap het, nie ver van waar daar vermoed was hy verdrink het nie. Hy is nie beseer nie en ons het hom terug na sy gesin geneem,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI gesê.
Sadian Fiay (21) se vriende het hom Dinsdagnag as vermis aangemeld nadat hy in Oudekraal in die Wes-Kaap gaan duik het en nie weer teruggekeer het nie.
Lambinon wou nie kommentaar lewer oor wat met die man gebeur het in die tyd wat hy vermis was nie.
“Die polisie hanteer dit,” het hy gesê.
Insp. November Filander, woordvoerder van polisie in die Wes-Kaap, sê die voorval word ondersoek.
“Ons het geen spesifieke inligting in die stadium nie en ons wag nog vir beamptes om te bevestig dat dit wel die man is wat as vermis aangemeld is,” het hy gesê.
November kon ook nie aandui of ‘n klag teen die man gelê sal word as polisie vind dat hulle op ‘n dwaalspoor gelei is nie.
- Sapa