Vermiste aspirant-veearts weer veilig
2011-10-19 09:08
Kimberley – ’n Portugese aspirant-veearts, Maria Da Gracia Oliviera (23), wat Sondag naby Ficksburg vermis geraak het, is Dinsdagoggend veilig in Maseru gekry nadat sy verdwaal én teëspoed gehad het.
Kollegas en vriende van haar in Kimberley was aan die een kant verlig dat sy veilig en springlewendig is en aan die ander kant was hulle vies omdat sy op die ingewing van die oomblik, vrou-alleen na Lesotho vertrek het.
Oliviera was Dinsdag uitgeput met haar terugkoms in Kimberley.
“Ek was erg benoud, maar het net heeltyd geglo alles sal goed verloop.”
Nadat sy deur ’n verlate grenspos in Lesotho gery het, het sy meer as een keer teëspoed gehad, maar vriendelike burgers van die Bergkoninkryk het haar elke keer gehelp.Sy het Sondagoggend uit Kimberley na Ficksburg vertrek. Sy wou ’n vriend daar ontmoet wat saam met haar sou reis. Sy het egter verdwaal en daar was nie ’n selfoonsein nie.
“Ek het besluit om alleen deur Ficksburg na die grenspos te ry. Dit was ’n aaklige grondpad. Die grenspos was verlate, toe ry ek deur.”
Haar gehuurde Ford Figo het egter in ’n donga beland. Sy het drie uur lank gestrand gesit.
“’n Vriendelike polisieman het opgedaag en my gehelp.
Dit het later baie donker geraak, maar ek het verder gery.
Teen 01:00 het ek by ’n hotel in Mokhotlong aangekom. Ek was só dors en verlig om ’n bed te kry.”
Sy is die volgende oggend vort. Teen laatmiddag het haar motor ’n pap band gehad.
“Sowat 20 mense uit die omgewing het uitgekom en my dadelik gehelp. Ek weet nie wat die plek se naam is waar ek Maandagaand geslaap het nie. Ek moes my bankkaart 11 keer in die outomatiese bankoutomaat sit voordat ek geld kon trek.”
Van bel by dié twee hotelle was daar nie sprake nie.
Sy het Dinsdagoggend in Maseru aangekom. Sy het dadelik haar vriende en kollegas in Kimberley gebel en gerusgestel.
By die Maseru-grenspos wou die amptenare omkoopgeld van R2 000 vra omdat haar paspoort nie gestempel was nie.
“My ander keuse was om saam met een van die amptenare huis toe te gaan. Gelukkig het hy toe net sy arm om my gesit en voor almal geparadeer. Daarna is my paspoort gestempel en het ek vertrek.”
Sy is Dinsdag vier keer deur die polisie in Suid-Afrika afgetrek omdat hulle haar nommerplaat herken het. Sy is as vermis aangegee.
Jackie Edwards, wat as haar voog optree, wou Oliviera oor haar skoot trek.
“Ek is self ’n ma en was vreeslik bekommerd. Ek het nooit geslaap nie. Ons bedank almal wat so hard saam met ons gehoop het.”
Oliviera is gek na Suid-Afrika se natuurlewe. Sy werk tans by dr. Emma Rambert se African Game Capture. “Ek wil in September volgende jaar my veearts-eksamen in Suid-Afrika aflê om heeltyds hier te werk.”
Oliviera het nie haar ouers en familie in Portugal laat weet van haar eskapade nie.
“Ek sal dit eers later doen,” sê sy met ’n glimlag.
Die waarnemende bevelvoerder van die Kimberley-polisie, genl.maj. Kollie Matthys, het Dinsdag die honde-eenheid, opsporingseenheid, die eenheid teen georganiseerde misdaad en die publiek bedank vir hul hulp in die soektog na Oliviera.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad