Vermiste SAer se lyk in Mosambiek gevind
2011-06-13 16:00
Johannesburg – ‘n Lyk wat verlede week in ‘n vlak graf in Massinga in Mosambiek gevind is, is glo dié van die vermiste Suid-Afrikaner Jacques Els, het die Suid-Afrikaanse polisiediens (SAPD) Maandag gesê.
“Die voertuig wat deur Els gebruik is, is ook in die dorp gevind en ons glo dat die motief vir die moord roof was,” het polisiewoordvoerder kapt. Dennis Adriao in ‘n verklaring gesê.
Die 25-jarige Els het in September 2010 na Mosambiek gereis vir ‘n sakebesoek.
Sy suster het ‘n saak by die polisie geopen toe hy nie teruggekeer het huis toe nie, het Adriao gesê.
Die polisie het in Mei ‘n mede-werker, wat saam met Els Mosambiek toe is, in hegtenis geneem.
‘n Gesamentlike ondersoek deur die Suid-Afrikaanse en Mosambiekse polisie het tot die ontdekking van die graf gelei.
“Deeglike ondersoekwerk en goeie verhoudings tussen die twee polisie-eenhede het weereens daartoe gelei dat ‘n misdaad wat teen ‘n Suid-Afrikaner in ‘n ander land gepleeg is deur die samewerking van die twee polisiedienste opgelos is,” het polisiekommissaris Bheki Cele gesê.
Die Els familie is in kennis gestel en verdere uitkenning van die lyk sal gedoen word sodra dit in Suid-Afrika aankom.
Die mede-werker, wat ‘n ongedokumenteerde immigrant was, is later deur die Mosambiekse polisie van moord aangekla.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA