Vermiste Matie se lyk in kar gevind
2011-12-06 07:00
Lize Swartz en Vera Schoeman
Stellenbosch – Die Matie-student wat vroeg Donderdagoggend in Oos-Londen vermis geraak het, se lyk is gisteroggend net buite dié stad in sy motor gevind.
Lammert Belgrove (22), bekend as Lamb, en sy bakkie het Woensdagnag verdwyn.
Hy het pas sy honneursgraad in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US) voltooi en was by sy ouerhuis vir die vakansie. Hy sou vandeesweek gegradueer het.
Nuus dat hy vermis word, het einde verlede week soos ’n veldbrand op die internet versprei.
Hy het glo Woensdagaand by ’n huis in Abbotsford in Oos-Londen gekuier, waarna hy en vriende na die nabygeleë Tatyanka’s-nagklub is. Hy het die klub om 02:35 alleen verlaat. Sy vriende is reeds vroeër huis toe.
Die familie het ’n privaat speurder, Christiaan Botha, se hulp ingeroep. Hy het gesê ’n motorwag van die klub het Belgrove onthou en beduie in watter rigting hy gery het.
Botha het ’n polisiebeampte gevra om die gebied langs die N2-snelweg tussen die Beaconbaai- en Gonubie-afritte – waarheen die wag beduie het – te fynkam nadat hy Saterdag die gebied sonder sukses in ’n helikopter gefyngekam het.
Belgrove se broer, JB (25), het gesê die polisie het die familie Maandagoggend omstreeks 09:00 laat weet dat hy gevind is.
“Dit is ’n yslike skok. Ons is gelukkig dat die Oos-Londense gemeenskap en so baie Suid-Afrikaners ons bygestaan het.”
Botha het gesê die bosse waar die bakkie gevind is, is baie dig en ondeurdringbaar.
“As ons nie geweet het waar om te soek nie, is die kans skraal dat ons hom ooit sou gevind het.”
Volgens JB Belgrove het sy oom, Rian van Onselen, die liggaam en die bakkie op die toneel as Belgrove s’n geïdentifiseer.
Die familie het die lyk Maandagmiddag by die lykshuis uitgeken.
’n Polisiewoordvoerder, kapt. Steven Marais, het gesê gemene spel word nie vermoed nie en die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.
Belgrove sou van Februarie af by die Midrand Graduate Institute in Potchefstroom gedoseer het. Hy het op 28 November op sy Facebook-profiel geskryf: “Dank die Here!!!!! Ek het my droom-werk gekry! Whoohooo!”
Die studentedekaan van die US, dr. Llewellyn MacMaster, het gesê dit is altyd ’n slag vir ’n universiteitsgemeenskap om een van sy studente aan die dood af te staan.
“Ons gedagtes is met sy gesin, familie en vriende in hierdie hartseer tyd.”
Belgrove word ook oorleef deur sy ouers, John en Jakobje, en nog twee broers, Ritze (19) en Kaleb (4).
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger