Vermeende veedief se lyk langs pad gevind
2012-01-17 16:01
Johannesburg – ‘n Man wat daarvan aangekla is dat hy beeste gesteel het, se lyk is Dinsdag in Giyani, Limpopo, gevind, het die polisie gesê.
Verbygangers het die lyk omstreeks 07:00 op die pad tussen Phalawubeni en Makhuvha gevind, het lt. kol. Mohale Ramatseba gesê.
“Daar was koeëlwonde in die kop en die wrak van ‘n verbrande Isuzu-bakkie het langs die lyk gestaan,” het hy gesê.
“Die polisie het ook die karkasse van twee beeste, twee pangas en ‘n byl langs die lyk gevind.”
Ramatseba sê die 40-jarige man sou volgende week op ‘n aanklag van veediefstal in die Giyani-landdroshof verskyn het.
Hy het ‘n beroep gedoen dat mense nie die wet in eie hande moet neem nie, maar om enige kriminele aktiwiteite by die polisie aan te meld.
Die besonderhede van die veediefstal-saak was nie onmiddellik beskikbaar nie.
‘n Moorddossier is geopen.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA