Vermeende stropers in KZN aangekeer
2013-02-26 08:23
Johannesburg – Nege mense is in Melmoth in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem in verband met stropery, het die polisie in die provinsie Dinsdag gesê.
Die groep, wat twee tieners insluit, is na bewering betrap met vier dooie bokke, twee haelgewere, 'n byl, 'n pistool en ammunisie in hulle besit, het kapt. Thulani Zwane gesê.
Polisiebeamptes van Melmoth het Vrydag op die groep afgekom en hulle voertuig probeer aftrek.
Die voertuig het nie stilgehou nie en die polisie het hulle gejaag tot hulle later stilgehou het.
Die verdagtes, wat in ouderdom wissel van 16 tot 56, het Vrydag in die Melmoth-landdroshof verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte van stropery en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.
Die saak is tot 6 Maart uitgestel.
Sewe volwassenes is steeds in aanhouding, en twee minderjariges is vrygelaat in die sorg van hulle ouers.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA