Vermeende smokkelaar skiet homself
2010-11-10 09:01
Volksblad
Polokwane - ’n Man wat glo by die onwettige verkoop van renosterhorings in Limpopo betrokke was, het homself Dinsdagaand doodgeskiet.
Tommy Fourie (51) van ’n plaas in die Musina-distrik het net ná 19:00 selfmoord gepleeg.
Fourie het na bewering 36 renosterhorings onwettig aan Jacques Els, ’n wildboer van Thabazimbi, verkoop.
Lt.kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, het Dinsdagaand bevestig Fourie het homself geskiet.
Hy het glo laatmiddag na ’n koppie naby die plaashuis gegaan.
Daar word verneem hy het homself met ’n jaggeweer geskiet nadat hy ’n vriend gebel en gesê het hy gaan dit doen.
Teen druktyd was die Musina-polisie nog op pad na die toneel.
Fourie het vroeg in September in die Musina-landdroshof verskyn op aanklag van die onwettige verkoop van die 36 renosterhorings.
Fourie is op borgtog van R5000 vrygelaat. Els het verlede maand ook in die Musina-landdroshof verskyn en is op borgtog van R30 000 vrygelaat. Fourie sou weer op 28 Januarie saam met Els in die hof moes verskyn.
Ondersoekers na aan die renosterstroopsindikaat van wie 11 vermeende lede in September in hegtenis geneem is, het gesê Fourie en Els is nie daarby betrokke nie, maar ingeligtes het gesê hulle was wel.
Dawie Groenewald, die vermeende opperbrein, sy vrou en twee veeartse van Modimolle (Nylstroom) is onder die 11 vermeende sindikaatlede.
- Volksblad