Vermeende sluipmoordenaar in hegtenis
2012-02-02 19:58
Johannesburg – ‘n Man is Woensdag in Alexandra, Johannesburg, in hegtenis geneem nadat hy na bewering beplan het om sluipmoorde op verskeie mense uit te voer, het die polisie gesê.
“Die 28-jarige man het blykbaar ‘n sms, waarin ‘n lysie was van mense wat hy beplan het om in Alexandra te vermoor, aan die verkeerde persoon gestuur,” het lt. kol. Katlego Mogale gesê.
Die man is opgespoor en in hegtenis geneem nadat die ontvanger van die sms die polisie gekontak het.
“Hy sal binnekort in die Johannesburgse landdroshof verskyn op aanklag van sameswering om moord te pleeg.”
Mogale kon nie ‘n nuusberig dat die man ‘n lid van die ANC-Jeugliga is, bevestig nie.
“Dit is nie bekend waarom die verdagte hierdie mense wou doodmaak nie. Dit maak deel van die ondersoek uit.”
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA