Vermeende rowers sterf in skietgeveg
2011-07-15 15:11
Durban – Twee vermeende rowers is dood en drie ander is onder polisiebewaking in die hospitaal ná 'n skietery in Durban, het die polisie Vrydag gesê.
Die mans het Donderdagmiddag op die hoek van die N2 en Edwin Swales-rylaan op die polisie losgebrand, het lt.kol. Vincent Mdunge gesê.
Mdunge het gesê vyf mans het in 'n taxi geklim wat onderweg was na Inanda in Durban, maar toe hulle daar aankom, het hulle die bestuurder beveel om hulle na Montclair te neem.
"Toe die taxi in Montclair aankom, het die vier mans afgespring en een man het in die taxi agtergebly. Die taxibestuurder het die polisie gebel toe die man buite die taxi op die foon besig was," het Mdunge gesê.
Met die polisie se aankoms op die toneel het die mans in die taxi gevlug, waarna 'n jaagtog ontstaan het.
"Die mans het toe op die polisie losgebrand. Die polisie het teruggeskiet en twee mans is dood en drie ander is gewond," het Mdunge gesê.
Die mans het probeer om 'n taverne in Montclair te beroof.
Die drie oorlewendes staan tereg op aanklagte van poging tot moord, gepoogde roof en kaping.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA