Vermeende rower ná jaagtog doodgeskiet
2011-09-15 11:52
Johannesburg – Die polisie het Woensdagmiddag 'n vermeende rower in Brenthurst, oos van Johannesburg, doodgeskiet, het 'n polisiewoordvoerder Donderdag gesê.
"Die verdagtes het op die polisie losgebrand, waarna die polisie teruggeskiet het. Een van die verdagtes is doodgeskiet en drie ander is in hegtenis geneem," het lt.kol. Tshisikhawe Ndou gesê.
Die skietery het ontstaan nadat 'n groep mans 'n sake-onderneming in Brakpan beroof het. Die polisie glo die gewapende mans het 'n werknemer, wat geld by die bank onttrek het, agtervolg.
Die mans het die sekuriteitswag gedwing om die hek oop te maak. Die rowers het eers 'n waarskuwingskoot op die werknemer gevuur. 'n Tweede skoot wat deur die rowers afgevuur is, het die werknemer in die voet getref, het Ndou gesê.
Die rowers het 'n onbekende bedrag geld gebuit, maar die werknemer het hulle agternagesit en die polisie gebel.
Die polisie het toe die twee motors in Brenthurst gesien, waarna 'n jaagtog ontstaan het. Die rowers het toe op die polisie losgebrand.
Ndou het gesê 'n VW Polo is later gevind.
Drie mans tussen die ouderdomme van 28 en 35 is in hegtenis geneem en staan tereg op aanklagte van sakeroof en poging tot moord.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA