Vermeende rower doodgeskiet
2011-11-14 23:10
Johannesburg – ‘n Man wat vermoedelik ‘n rooftog op ‘n plaas uitgevoer het, is Maandag in ‘n struweling met die polisie naby Moedville doodgeskiet, het die polisie in Noordwes gesê.
Die oorledene en ‘n ander man het na bewering vroeër die dag ‘n rooftog op ‘n plaas uitgevoer, het kapt. Adele Myburgh gesê.
‘n Sewe-en-dertig-jarige vrou is met ‘n mes op die plaas aangehou en vasgebind. Die twee het kos, elektriese toebehore en ‘n selfoon gesteel voor hulle gevlug het.
Die vrou het daarin geslaag om haarself te bevry en het die owerhede gekontak.
Volgens Myburgh is ‘n goeie beskrywing van die mans aan die polisie gegee. ‘n Speurder het die twee mans op die Koster-pad raakgesien, hulle genader en hulle beveel om op die grond te lê.
Terwyl hy een van hulle deursoek het, het die ander verdagte “opgespring en die speurder se vuurwapen probeer gryp,” het Myburgh gesê.
“Die speurder en die verdagte het in ‘n struweling betrokke geraak en die tweede verdagte het weggehardloop.
“’n Waarskuwingskoot is afgevuur... maar die verdagte het nie opgehou om die speurder aan te rand nie,” het sy gesê.
‘n Tweede skoot is toe afgevuur en die vermeende rower is in die bolyf getref. Hy is op die toneel dood.
Die gesteelde eiendom is teruggevind.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA