Vermeende reeks-verkragter weer vas
2012-11-19 10:12
Johannesburg – 'n Vermeende reeksverkragter wat by die Ga-Rankuwa-landdroshof uit polisie-aanhouding ontsnap het, is in Hammanskraal vasgetrek, het die polisie in Gauteng Maandag gesê.
Isaac Samuel Dibetso (41) is by 'n huis in die Mogogelo-nedersetting, waar hy weggekruip het, in hegtenis geneem nadat die polisie 'n wenk ontvang het, het kapt. Pinky Tsinyane gesê.
"Toe die verdagte besef die polisie is daar vir hom, het hy probeer vlug, maar hy is op die toneel in hegtenis geneem."
Dibetso het op 5 September ontsnap.
Hy het na bewering verskeie vroue in Akasia, Ga-Rankuwa en Pretoria-Noord verkrag.
Ondersoeke het onthul dat Dibetso vroue wat desperaat na werk gesoek het, geteiken het. Hy sou hulle bel en 'n afspraak met hulle maak.
Tsinyane het gesê op die afgespreekte datum het hy voorgegee om hulle na die werksplek te neem.
"Hy sou hulle na 'n beboste gebied neem, waar hy hulle met die dood gedreig en verkrag het."
Dibetso sal na verwagting binnekort op aanklagte van gewapende roof, die ontsnapping uit wettige aanhouding en verskeie aanklagte van verkragting in die Pretoria- en Ga-Rankuwa-landdroshof verskyn.
Die ondersoek duur voort.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA