Vermeende reeksverkragter in Noordwes gearresteer
2010-12-04 14:34
Johannesburg – Die seun van ‘n taxibestuurder wat glo by meer as vyftien verkragtings in Johannesburg en Pretoria betrokke was, is in hegtenis geneem, het die Gautengse polisie Saterdag gesê.
“Die man is Saterdagoggend omstreeks 03:00 in Britz in die Noordwes gearresteer terwyl hy geslaap het,” het luit. kol. Lungelo Dlamini gesê.
“Nadat sy foto in koerante gepubliseer was, het ons 'n wenk uit die publiek gekry. Dit het tot die man se arrestasie gelei.”
Die man sal Maandag in die Alexandra landdroshof verskyn en staar aanklagtes van verkragting en rooftog in die gesig.
Die verkragtings het in die omgewings van Randburg, Sandton, Alexandra en Douglasdale in Johannesburg en Wierdabrug in Pretoria plaasgevind.
Volgens Dlamini is die verdagte se pa en sy makker in Augustus 2009 gearresteer en hul sake is nog nie in die Alexandra landroshof afgehandel nie.
“Die verdagtes sal vroulike passasiers optel en hulle na ‘n oop stuk veld in Olievenhoutbosch neem waar hulle dan die slagoffers verkrag en van hul besittings beroof.
‘n Quantum Toyota en Siyaya minibus is glo in die voorvalle gebruik.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA