Man wat glo 12+ verkrag vasgetrek
2010-11-12 08:15
Johannesburg – ‘n Man wat daarvan verdink word dat hy minstens twaalf jong vroue sedert Augustus in Hillbrow verkrag het, is Vrydagoggend in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem, het die Gautengse polisie gesê.
“Ek kan bevestig dat ‘n man vanoggend (Vrydag) in hegtenis geneem is, maar ek kan nie verdere kommentaar lewer nie aangesien kol. (Gerard) Labuschagne oor dié saak kommentaar lewer,” het kapt. Katlego Mashego gesê.
Labuschagne het vroeër dié week gesê dat die man na bewering jong swart vroue tussen die ouderdom van 19 en 21 in Johannesburg en Pretoria teiken.
Die man nader ‘n groep vroue en nooi hulle uit om sy verjaardag by ‘n restaurant of kroeg saam met hom te vier.
Hy vra dan dat een van hulle hom vergesel om sy suster of ‘n vriend te gaan haal. Daarna neem hulle ‘n taxi na Hillbrow of sentrale Johannesburg.
Die man neem dan die vrou, wat onder die indruk is dat hulle die suster of vriend gaan haal, na ‘n hotelkamer.
Sodra hulle binne die kamer is, verkrag hy die vrou en hou haar oornag in die kamer aan.
“Hy dreig die vrou sodat sy nie skree nie...” het Labuschagne gesê.
“In die oggende sê hy vir die slagoffer dat hy geld gaan trek of kos koop en ná ‘n rukkie besef sy dat die deur nie gesluit is nie.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA