Vermeende plaasmoordenaar doodgeskiet
2010-07-29 06:21
Johannesburg - Een van vier mans wat in hegtenis geneem is weens 'n plaasmoord in Mooirivier is deur die polisie doodgeskiet.
"Een van die verdagtes in die moordsaak op Sherwood-plaas is doodgeskiet toe hy 'n polisieman ontwapen en hom probeer skiet het," het luit.-kol. Jay Naicker gesê.
Die vier is Woensdagoggend deur die georganiseerde taakmag in hegtenis geneem weens die moord op me. Lorraine Karg (58) en haar twee werknemers, me. Hilda Linane (34) en mnr. Zakhewo Mhlongo (66).
Die verdagte is doodgeskiet terwyl hulle besig was met vingerafdrukke in die gemeenskapsentrum in Mooirivier. Hy het die polisieman se wapen in die hande gekry en was op die punt om hom te skiet toe 'n ander polisieman op hom losgebrand en die vermeende moordenaar doodgeskiet het.
Karg se keel is afgesny en haar werkers doodgesteek nadat die moordenaars 'n brand op die plaas gestig het om hulle in 'n lokval te lei.
- Beeld