Vermeende ontvoerder in hegtenis
2012-02-02 18:56
Johannesburg – Die vermeende ontvoerder van ‘n driejarige meisie in Kaapstad is in hegtenis geneem nadat ‘n swerwer ‘n wenk verskaf het, het beamptes van die stad Donderdag gesê.
Die meisie, Chante Christoffels, is in September verlede jaar uit ‘n parkeergebied in Bellville ontvoer. Sy was vir byna ‘n maand vermis voordat haar ontvoerder haar voor ‘n woonstelblok in Bellville gelos het.
“Toe wetstoepassers gister (Woensdag) op patrollie was in die middestad in Bellville, het ‘n swerwer hulle genader en gesê hy het pas die meisie se ontvoerder gesien,” het die stad in ‘n verklaring gesê.
“Hy het die beamptes na die verdagte gelei. Hulle het die verdagte in hegtenis geneem en na Chante se ma se huis geneem.”
Die meisie se ma het bevestig dat dié persoon haar dogter ontvoer het. Die vermeende ontvoerder is toe in hegtenis geneem en na die Bellville-polisiekantoor geneem.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA