Vermeende moordenaar vry ná deurmekaarspul by hof
2013-02-04 09:39
Durban – 'n Vermeende moordenaar is per ongeluk deur 'n klerk by 'n landdroshof in Durban vrygelaat ná sy aansoek om borgtog van die hand gewys is, het The Mercury Maandag berig.
Lebo Sibisi, 29, se aansoek om borgtog is op 23 Januarie afgekeur weens die erns van die aanklagte teen hom, maar 'n vorm wat aan hom oorhandig is, het aangedui dat hy op borgtog van R5 000 vrygelaat kan word.
Dié vorm, die sogenaamde J7-dokument, dui aan of 'n beskuldigde se borgtog goed- of afgekeur is.
Sibisi en sy medebeskuldigde, Khehla Calvin Mthalane, 27, is aangekla van moord met verswarende omstandighede. Hulle het John Dwain Naidoo, 31, na bewering verlede jaar in September gedurende 'n rooftog by sy huis in Glenwood vermoor.
Sibisi was in daardie stadium vry op parool ná hy 'n deel van sy vonnis uitgedien het vir ander oortredings.
"Die aanvanklike ondersoek is afgehandel. Daar is vasgestel dat die eerste beskuldigde (Sibisi) se aansoek om borgtog van die hand gewys is, en dat die tweede beskuldigde (Mthalane) borgtog toegestaan is. Toe die J7 uitgereik moes word, het die klerk twee J7's met borgtog van R5 000 elk uitgereik, pleks van een," het Victor Hlatshwayo, bestuurder van Durban se landdroshof, volgens The Mercury gesê.
'n Lasbrief is uitgereik vir Sibisi se inhegtenisneming.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA