Vermeende lede van kinderporno-sindikaat ‘verdien doodstraf’
2010-12-04 13:49
Die Burger
Johannesburg - Die agt vermeende lede van moontlik die grootste kinderpornografie-sindikaat in die Suid-Afrikaanse geskiedenis verdien die doodstraf.
Dít was die reaksie van Solidariteit Helpende Hand nadat dit geblyk het die volwassenes van drie gesinne het na bewering pornografiese video’s van hul kinders gemaak en verkoop.
Die agt volwassenes is Donderdag in ’n klopjag deur die polisie en die departement van gesondheid en maatskaplike ontwikkeling op ’n hoewe in die buitewyke van Pretoria-Noord vasgetrek.
Die ses kinders van tussen 4 en 13 jaar oud is glo jare lank deur hul ouers, peetouers en grootouers in pornografiese video’s gebruik. Die kinders is glo ook gedwing om seks met mekaar te hê.
Dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het die inhegtenisneming van die sindikaatlede ’n oorwinning vir kinderregte genoem.
“Ons wens die polisie en die departement van gesondheid en maatskaplike ontwikkeling geluk wat te midde van die 16 dae van aktivisme teen geweld teenoor vroue en kinders wys dat misdaad teenoor kinders nie net gelate aanvaar word nie,” het hy gesê.
Volgens Langner bestaan daar ’n sterk verband tussen pornografie en kindermolestering.
“Alle pornografiekykers is nie noodwendig molesteerders nie, maar volgens kenners kyk alle kindermolesteerders na pornografie.”
Dié bevindings is vervat in die kindermisdaadverslag wat verlede jaar deur Helpende Hand bekend gemaak is.
Langner het ook gesê kykers van pornografie skep ’n mark vir die maak van sulke video’s en stel kinders bloot aan molestering en verkragting.
Hulle het van die sindikaat bewus geword toe maatskaplike werkers vasgestel het twee pleegkinders – ’n sesjarige seun en agtjarige meisie – het swak op skool begin vaar, het ao. Tonia Louwrens, hoofondersoekbeampte, gesê.
- Die Burger