Vermeende kapers vasgetrek
2009-12-09 18:56
Pretoria – Drie mans is Woensdag in hegtenis geneem en ‘n vierde verdagte gewond toe ‘n skietery tussen hulle en die polisie in Atteridgeville, in die weste van Pretoria, uitgebreek het.
Die vier mans was glo gesien waar hulle in ‘n gekaapte motor in die weste van Pretoria gery het, het insp. Daniel Mavimbela, polisiewoordvoerder, gesê.
“Die polisie het die verdagtes in die motor genader. Hulle het dadelik op die polisie begin skiet. ‘n Jaagtog het gevolg en die mans is later in Sekhukhuni-straat vasgetrek.”
‘n 30-jarige man is in die onderlyf raakgeskiet. Hy is onder polisiebewaking in die hospitaal opgeneem.
Verskeie gesteelde vuurwapens en ammunisie is in hulle besit gevind. Die BMW 530d waarin hulle gery het is glo verlede maand in Brooklyn tydens ‘n kaping gesteel.
Nog twee motors, wat glo ook gesteel is, is by die verdagtes se huis gevind.
Die mans staar nou verskeie klagtes in die gesig.
–Sapa