Vermeende kapers in Pta doodgeskiet
2011-08-16 16:57
Pretoria – Twee vermeende kapers is doodgeskiet en een is beseer tydens 'n skietgeveg met die polisie in Mamelodi, Pretoria, het die polisie Dinsdag gesê.
Lt. kol. Tshisikhawe Ndou het gesê drie mans het na bewering Maandagaand 'n wit Mercedes Benz in Pretoria-Sentraal gekaap.
"Hulle het glo die man en die vrou wat in die motor was aangerand en die paartjie saam met hulle geneem."
'n Ooggetuie het die polisie gebel en lede van die blitspatrollie in Pretoria het die motor opgespoor.
Terwyl die polisie die motor agternagesit het, het die mans op hulle losgebrand.
Die polisie het teruggeskiet en al drie mans geskiet. Die paartjie is ook in die skietgeveg beseer.
Ndou het gesê die paartjie en een vermeende kaper word in die hospitaal behandel.
Die man sal in die hof verskyn sodra hy aangesterk het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA