Vermeende kapers dood twee polisiebeamptes
2011-07-25 14:07
Johannesburg – Twee polisiebeamptes is dood nadat hulle deur vermeende kapers naby Zonkizizwe aan die Oosrand geskiet is, het die polisie Maandag gesê.
Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, het gesê die polisiebeamptes wat aan die blitspatrollie verbonde is, is geskiet toe hulle agter 'n verdagte bakkie langs die pad stilhou.
Die mans het toe die bakkie sonder brandstof op die toneel gelos en 'n Toyota Corolla gekaap.
Die verdagtes het die insittendes se selfone gesteel voor hulle in die motor weggery het.
"In die stadium is dit nie bekend of 'n skietgeveg ontstaan het nie, maar albei beamptes 45 en 47 is in die bolyf gewond," het Dlamini gesê.
Die mans het ook die polisiebeamptes se vuurwapens gesteel.
'n 9mm-pistool is in die bakkie gevind.
Die gekaapte Toyota Corolla is 'n paar kilometer van die toneel gevind.
Niemand is in hegtenis geneem nie.
Meer as 50 polisiebeamptes is landswyd vanjaar vermoor.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA