Vermeende inbreker doodgemaak, verbrand
2010-08-02 23:30
Durban – ‘n Polisieman is Maandag in hegtenis geneem nadat hy glo deel van ‘n groep was wat ‘n vermeende inbreker in Nanda doodgemaak en verbrand het, het die KwaZulu-Natalse polisie gesê.
“Die polisieman is vandag (Maandag) by sy werk by die Nanda-polisiestasie in hegtenis geneem,” het Brigadier Phindile Radebe, ‘n woordvoerder, gesê.
Die man word van moord, poging tot moord en aanranding aangekla.
Plaaslike inwoners het drie mense aangeval wat vermoedelik op 18 Julie by ‘n huis ingebreek het.
Een persoon het ontsnap, terwyl ‘n ander een beseer is. Die derde persoon is doodgemaak en sy lyk is aan die brand gesteek, het Radebe gesê.
Agt mense is verlede Vrydag in hegtenis geneem en sal op 10 Augustus weer in die hof verskyn.
Die groep het die polisiebeampte by die misdaad betrek.
Hy sal Woensdag in die magistraatshof in Ntuzuma verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA