Vermeende familiemoordenaar in hof
2011-10-05 16:58
Johannesburg – 'n Man sal na verwagting Woensdag in die Vereeniging-landdroshof verskyn in verband met die moord op 'n paartjie en hul seun in Walkerville, suid van Johannesburg, het die polisie gesê.
"Ons weet nog nie wat die (vermeende) moordenaar se motiewe was nie," het ao. Happy Nape, polisiewoordvoerder, gesê.
Die man is Maandag in hegtenis geneem.
Die lyk van Giraldine Vaina (46) is in die hoofslaapkamer gevind, terwyl haar man, Tony Vaina (50), in die voorkamer doodgeskiet is. Hy is op sy maag gevind, met sy hande wat agter sy rug vasgemaak is.
Amaro Vaina (13) se lyk is in die bad gevind, met sy hande wat agter sy rug vasgemaak is. Hy was 'n gr.7-leerder aan die Linmeyer Primêre Skool.
Sy pa was die eienaar van MSV Tooling in Germiston.
Die polisie glo die gesin is Saterdagaand vermoor.
Die 20-jarige man staan tereg op drie aanklagte van moord, verkragting, motordiefstal en huisroof.
Nape het gesê die polisie glo nóg verdagtes was betrokke. Die ondersoek duur voort.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA